Terwyl ek wonder of die wind ooit gaan ophou waai dwaal my gedagtes Kaap toe waar ek volgende week heen ontsnap vir drie weke. Dit sal die wind leer dink ek. Asof die wind hom nou aan my gaan steur. So baie goed is besig om te gebeur reg rondom ons. Steve kap vir Koos, Anton kap vir Koos, Koos lewer geen kommentaar en die wêreld hou aan draai. Fenominaal hoe klein die wêreldjies van mense soms raak, sonder dat hulle besef dat die wêreld net aangaan. Met of sonder hulle. Dis wanneer die lewe so op sy eie aangaan dat daar juweeltjies uitspring, so half onverwags.
Dit was so halfmaan terug toe ‘n vriend by my ‘n draai maak met ‘n sespak soeterige drinkgoedjies en ‘n bottel Tequila onder die arm. Dit lyk sommer so oor ‘n afstand na moeilikheid. Sien, hierdie vriend van my is ‘n kriminele prokureur, die tipe wat jy aan jou kant wil hê as jou voet ooit die lyn kwytraak. Dierbare siel wat hou van vinnige karre, motorfietse en musiek. Ek het hom maar altyd gesien as ‘n sokkiejol aanhanger, seker omdat ek hom nooit regtig gevra het watter musiek hy geniet nie.
Dis op hierdie einste Tequila laatmiddag wat hy my bly sê hy wil my iets speel in sy nuwe masjien wat op my inrit staan en blink. Ek is huiwerig, maar nie ‘n ou vir moeilik wees nie, so ek stem in. Ons gaan sit in die blink wa met ‘n klanksisteem wat my onmiddellik laat lekkerder sit. Dis darem ‘n plesier om in ‘n ryding te klim waar die mense wat hom gebou het gedink het aan klank en die belangrikheid daarvan.
Ek verwag natuurlik die ergste en vir ‘n oomblik vermoed ek dat my intuïsie reg was. Die eerste elektroniese note val, maar dit pla my nie, want ek hoor regte dromme in die mengsel. Daar is ook baie goeie Afrikaanse lirieke. Lirieke wat jou aandag gryp en hou. Die een nommer na die ander. Dis verbysterend en ek vra mooi om nie meer in die kar te sit en luister nie. Ek wil terug teen die trappe op, maar ek wil hierdie cd leen. Wie is dit wil ek koorsagtig weet. Hy wil nie sê nie. Ek moet raai. My eerste raaiskoot is kolskoot, spyt dat ek dit nog nie gehoor het nie, maar nietemin, jou eerste keer kom tog eerste. Hoe vinniger as eerste kan jy nou iets hoor? Ek troos myself daaraan.
Ek sit nou-nog met die cd. Die lus om die cd terug te besorg aan sy eienaar het my nognie oorval nie. Vandag sit en wonder ek hoekom hierdie sameloop van omstandighede vir my binnepret verskaf. Is dit oor die lirieke? Nee, want ek het al sielsverstommende lirieke gehoor, beter as hierdie. Is dit die nuwerwetse verwerking wat my aandag gevang het en my verbeelding aangegryp het? Wel, ja, mar dit is ook nie die rede vir die kriewelende opwinding wat my begin pla nie.
Nie lank se gedink of ek sit my vinger daarop. Dit gaan een honderd persent oor die feit dat iemand wat ek as ‘n sokkie joller aanhanger gesien het vir my musiek gebring het wat my deeglik beïndruk. Die musiek toor met hom en spreek tot ‘n deel van hom wat meeste mense in ons landjie nie oor beskik nie. Die musiek praat met hom op ‘n vlak wat my baie opgewonde maak. Goeie musiek het wragtag die vermoë om selfs die wat dit die minste verwag, ‘n kolskoot toe te dien. Die Heuwels is inderdaad Fantasties!

