Sommige aande wanneer ek alleen tuis is hou ek daarvan om op my stoep te staan met my iPod in my ore. Dan staar ek oor die see na die sonsondergang en wonder by myself. “Is it all worth it?” Die alledaagse gejaag en geraas wat mens mal maak. Wanneer die son dan sy laaste strale oor die horison werp en Andrea Bocelli en een of ander sopraan sing Vivo per Lei so hartstogtelik saam dat dit die spinnerakke uit jou borskas uitjaag, jou wind uitslaan soos ‘n vuishou uit die blou en jou hare op jou kop laat regopstaan. Ek wonder dan hoe dit voel vir kaalkop ouens as daar met hulle iets haarrysends gebeur. Staan hulle haarfollikels op aandag en juig sonder armpies in die lug?
Sommige aande hou ek daarvan om op dieselfde stoep te staan met my gesinnetjie en goeie vriende, ‘n vuur te pak van sitrus hout en ‘n hoender op die spit te braai. Wanneer die vlamme lemoenrooi dans in die vuurmaakplek en The Eels haarfollikel liggende kuns pleeg of Jack Johnson sy elke naweek musiek weer en weer oor en oor sing sonder dat mens moeg raak daarvan, dan is ek werklik gelukkig. Later dieselfde aand sit die hele geselskap in diep gesprekke van presies hoe om die wêreld se knaende probleme op te los. Net jammer niemand onthou ooit ‘n pen en papier om die oplossings op papier te verewig en later na die minister se kantoor te vat met aftershave aan, net om die reuk van die vorige nag te verbloem.
Vroeg-vroeg soggens wanneer almal in die huis nog nêrens is nie en die warm koppie koffie druk ‘n duik in my voorvinger soos ek dit staan en vashou terwyl ek kyk hoe my boompies deur die nag gegroei het. Mei-maand my babies, Mei-maan knipoog ek vir hulle. Dis die musiek van die plaas wat my vermaak vanoggend. Die Hadeda, die Visarend en die perde om die draai se rustige geluid terwyl hulle net om die draai my gras pol vir pol uitpluk. Ek raak nie nou kwaad nie, want ek skiem dis oukei om dit te hoor in die oggend. Ek sal later worry oor die gras wat lyk asof dit in die ongeluk was.
Party aande wanneer jy koorsagtig aan jou kitaar pluk op die verhoog en jou band is elkeen in hulle eie wêreldtjies, planete van beswyming. Hulle is almal so verwyderd, maar tog so deel van een klank, elkeen ‘n unieke kleur op ‘n doek wat later ‘n asemrowende skildery van klank word. Wanneer ‘n sweetdruppel besluit om dramaties oor jou wang te rol en jy branderig jou oë oopmaak om na die gehoor te loer. Dis wanneer my siel vol skiet en ek weet eweskielik. “It’s not at all worth it” Die stres, die gejaag, die geraas. Dis alles ‘n nagemaakte illusie van die werklike eenvoud van die lewe.
Sit bietjie jou iPod op, kies ‘n onbekende song en maak jou oë toe. Vergeet van die elektrisiteits rekening, vergeet van die geyser wat deur die dak gebars het en die kredietkaart staat. Vat ‘n dag af al het jy nie verlof nie en slaap laat sonder om skuldig te voel daaroor. Laat die musiek jou soms wegvat na daar waar jy dink die son gaan slaap, na daar waar jy dink die verskillende winde trek lotjies wie die volgende dag gaan waai. Gaan daar in jou kop, gaan staan iewers op ‘n koppie en staar uit oor die uitspansel. Die volume moet net reg wees, want jy moet niks om jou kan hoor nie, net die musiek. Die musiek breek die wëreld se ritme en eweskielik is is jy nie meer deel daarvan nie. Wees net wie jy wil wees, maar vat orals en altyd musiek saam as die lewe voel of dit jou borskas toedruk.

