• Blog

    Posted on December 5th, 2009

    Written by Rohan

    Tags

    Partykeer vang ek myself dat ek van die Kaap praat as huis. Dis wanneer mense my vreemd aankyk en vra of ek nog in die Baai bly. Ja sê ek dan, en onthou die vele kere wat ek vlugte van die Kaap na PE op die internet bestel en dan op die PE lughawe aankom en besef ek bly nie meer in die Kaap nie. Ag &^%$# dink jy elke keer as dit gebeur en jy sit jou sonbril op en hoop niemand by die PE lughawe herken jou nie. Jy haal later maar weer jou sonbril af, want jy besef jy kan niks in die lughawe gebou sien nie en niemand sal jou anyway herken in PE nie, al was jy Jack Johnson. Jy bel die venues en cancel met jou stert tussen jou bene, want jy’t sopas ‘n baie stupid fout gemaak. Sulke goed maak van trek nogal ‘n traumatiese proses.

    Partykeer wens ek ek woon nog in die Kaap, net vier kilometer af van die volgende vuur afspraak en ‘n glasie, wit vir die somer en rooi vir die winter, Kaapse wyn. Ons sal spot oor wat nou weer in die industrie aangaan en wie in jou ma se huis se gang gepie het omdat hy dit nie tot by die toilet kon maak nie. Dit was die binnekring. Ingeprop by die lewe. Elke dag. Aan. Af. Aan, Af. Wonderlik gestruktureerd en veilig. En dan, dan in ‘n mal oomblik besluit jy om die mat reg onder jou eie self uit te ruk. Jy besluit om te trek.

    Hulle sê trek is amper so traumaties soos die dood of ‘n egskeiding. Ek kan myself indink. En dit, twee en ‘n half jaar later. Ek bepeins hoekom die muse my hierheen gelok het met haar flambojante idees sonder skroom of wegkyk. Haar uitnooi na die avontuur wat my nog altyd van my eie sitvlak af gehou het. Die soeke na die onbekende en wat dalk agter die volgende bult wag. Dalk is ek die Afrika afstammeling van ‘n gypsey. Wanneer ek myself dan die aand of wat per maand in ‘n speelplek bevind tussen die maters van oud en nuut, besef ek meteens dat daar wel konstantes in die lewe is. Die mense en die stories. Die twee teenpole wat alles van menswees tot musiek aanmekaar vasmaak. Albei verskillend in hulle konstandheid. Die mense verander, maar die stories bly altyd dieselfde.

    Dis om daardie rede ook dat ek myself deesdae troos aan die feit dat ‘n wynplaas se hek nie ry afstand is nie en dat die naaste kulturele stimulering ‘n rapsie verder is. Gelukkig is daar vliegtuie en kan ek vlieg na daai kant van die skaal. Die smiles en die plastic, die Kindermusik en die Monkeynastix. Twee wêrelde, dieselfde mense. Die limelight maak jou blind sê die kenners, want mense wil nie regtig sien nie. En almal wil in die limelight wees.

    Vir wat sal jy jou view verruil? Ek sidder as ek moet dink om terug te wees in daai deel van suburbia waar jy jou bure kan hoor. Waar ek nou sit, hier op my stoep kan ek ook my buurvrou hoor. Net omdat sy baie loud is. Dalk braai hulle net en die lug is dun en daarom beweeg die klank beter. Ek kan saans die leeus hoor en hulle is heelwat verder as die buurvrou. Dan dink ek. Dit maak nie saak waar jy woon nie. Dit maak nie saak wie jy is nie. Al wat saakmaak is dat jy gelukkig is. Dat jy die musiek kan luister wat jou gelukkig maak en nie noodwendig jou bure nie. Dat enigiemand se smaak sy eie is en dit jou so uniek maak soos die ou regs langs jou wat van dieselfde musiek hou. Musiek is die ritme waarop die hele wêreld vibreer. Musiek is wat wêrelde nader aan mekaar bring. Musiek is wat vir my die ver nader bring.

    This entry was posted on Saturday, December 5th, 2009 at 4:36 am and is filed under Blog. You can follow any responses to this entry through the RSS 2.0 feed. You can leave a response, or trackback from your own site.
  • 0 Comments

    Take a look at some of the responses we have had to this article.

  • Leave a Reply

    Let us know what you thought.

  • Name(required):

    Email(required):

    Website:

    Message: