• Blog

    Posted on December 16th, 2009

    Written by abie

    Tags

    Soggens wanneer my drie-en-n-half jarige dogtertjie wakker word vra sy heel eerste of dit ‘n nuwe dag is. Vandat sy gebore is het ek soggens vir haar gesê “hallo nuwe dag, hallo wêreld”. Nou hoor ek dit elke oggend uit haar mond en ek’s mal daaroor. Dit wys ‘n dieper begrip van die son-wat-weer-opkom konsep. Wanneer dit donker word en dinge lyk moedeloos kan ons onsself darem troos dat die son wel weer gaan skyn môre oggend. So baie liedjies is al geskryf oor die konsep, gesegdes kom voor in kombinasies en permutasies van die oorspronklike stelling en in verskillende tale kom die son elke oggend maar weer op. Hoop is ‘n wonderlike ding, want soms is dit al wat mense aan die lewe hou.

    Die afgelope drie jaar was ek baie passief in die musiek wêreld. Ek het die minimum gedoen om aan te gaan en van dag tot dag te lewe. Facebook was my gesiggie na die wêreld. Desperaat het ek gewag vir die son om weer op te kom oor my eie musiek. ‘n Paar maande gelede het dit gebeur en nou’s die pedaal weer plat teen die vloer en daar’s nie eens tyd vir stop of afdraai nie. Dis asemrowend lekker. My nuutgevonde vryheid lei my weer na die lekkerhede wat hierdie binnekring bied.

    Chrisman Baard se naam ken ek al baie lank. Nog nooit ontmoet nie, maar al baie gesels deur die internetgolwe. Ek het nog nooit gehoor wat hy gepen het nie. Met my uitkom uit hibernasie maak ek weer kontak met algaar en ‘n epos tweestryd bevind homself in die middel van my en Chrisman Baard. Hy beloof om vir my sy cd te pos. Ek sien uit, maar weet nie heeltemal wat om te verwag nie. Ek laat dit Kaap toe stuur, want dis waar ek die volgende drie weke gaan wees om die nuwe cd klaar te maak. Ek vergeet heeltemal van hierdie pakkie wat oppad is en is byna verras toe dit netjies geadresseer by my opdaag. “Hou links, gaan regs verby” is die album se naam.

    Chrisman is nie ‘n voltydse musikant nie. Sover ek weet is hy ‘n akademikus. Soos ek die album begin luister kom ek agter dat hy ‘n akademikus is wat nie soos ‘n nagtegal sing nie. Dit pla my nie, want die lirieke wat uit sy pen kom is wat my vasvang. Polities, introspektief, interessant, snaaks en insiggewend. Dis maar ‘n paar van die woorde wat ek aan kan dink, sonder om regtig daaroor te dink, om die liedjies te beskryf. Die musiek laat my dink aan die ontslape James Phillips. Goeie skrywer met iets om te sê, maar gebore met ‘n stem wat eerder moes bly by praat.

    Ek luister die cd heeltemal deur en hy begin weer van voor af. Daar land gereeld ‘n cd in my posbus. Met die eerste luister kan mens gewoonlik hoor waarheen die musiek gaan en pas mens maar die Reader’s Digest luister tegniek toe. Luister paar sekondes van elke liedjie en sit die cd dan daar waar dit Niemand kan skade maak nie. Maar Chrisman Baard se cd gaan in my houtkis. Dis kultus musiek, maar nie vir die massas se ore beskore.

    Dit laat my wonder. Waar gaan kunstenaars, regte kunstenaars, of hulle nou kan sing of nie? Waar gaan mense wat iets het om te sê, iets met vleis, iets met intillek? Is daar ‘n spreekbuis vir hierdie mense, ‘n seepkissie as’t ware waar hierdie mense hulle spreke en insae met mense kan deel. Hoe gaan slaap hierdie skrywers? Met ‘n swaar hart, omdat hulle verspreiders nie hulle skrywes verkoop nie? Met ‘n lood gemoed omdat hulle nie by die massas uitkom nie. Daardie struggle pla my niks meer nie, want ek weet dat wanneer ‘n ware kunstenaar doen presies wat hy doen, sal die son opkom die volgende dag en ‘n nuwe horison sal wel sy kleure wys. ‘n Nuwe dag met nuwe dinge.

    This entry was posted on Wednesday, December 16th, 2009 at 1:42 am and is filed under Blog. You can follow any responses to this entry through the RSS 2.0 feed. You can leave a response, or trackback from your own site.
  • 0 Comments

    Take a look at some of the responses we have had to this article.

  • Leave a Reply

    Let us know what you thought.

  • Name(required):

    Email(required):

    Website:

    Message: