Dis uiteindelik ‘n nuwe jaar. Daar was ‘n tyd wat ek gedink het 2009 gaan nooit sy gat sien nie. Liewe aarde! Hoe mal kan ‘n jaar word voor hy moet weggesleep en oor die kop geslaan raak? Nog een week van 2009 en iemand sou my moes wegsleep aan my hare en oor die kop slaan, vol Pethadine spuit en toesluit in ‘n plek met sagte mure en rustige musiek. Dit was ‘n wille een, maar hy’s nou verby.
Ek wil nie terugkyk oor 2009 nie, maar het wel ‘n paar opmerkings daaroor wat ek dink geldig is vir baie meer mense as net vir myself. Ek glo vas dat goeie idees tydens swaar tye gebore word. As dit nie vir swaar tye was nie, het ons waarskynlik nie vooruitgang in die gesig gestaar nie. Mense moet soms bietjie suffer om aan nuwe maniere te dink om ou probleme op te los. Ek is dankbaar vir die swaar jaar, want die geleenthede wat gebore is uit die swaar jaar gaan vir die nuwe jaar ‘n super mooi rok aantrek, sequence, knopies…die werke!
Ek is dankbaar dat ek vir die eerste keer in my lewe regtig vry is van die korporatiewe rompslomp. Van nou af is dit 100% kreatiwiteit. Kreatiwiteit en tegnologie. Ek sal eerder gaan visvang vir ‘n lewe voor ek weer agter iemand anders se lessenaar inskuif…en ek hou nie van visvang nie!
Met ‘n moeilike jaar agter die rug is ek positief oor die nuwe jaar, die nuwe jaar wat nou al ‘n volle dag oud is. ‘n Nuwe jaar wat nog haar eie voete probeer vind in die stof van die chaos wat reeds besig is om te gaan lê. Met elke jaar kom daar net nog nuwe dinge en dis baie exciting om te sien watse nuwighede ons gaan tref hierdie jaar.
Ek sien uit na nuwe name in die musiek arena. Ek sien uit na nuwe songs deur Jack Parow. Nog ‘n fenomeen uit die Wes Kaap en veral die Durbanville omgewing. Durbanville is een van die groot broeiplekke vir nuwe opkomende, breinverskuiwende kunstenaars. Die Noordelike voorstede het al geboorte gegee aan groot name. Interessant hoe dit elke jaar iemand nuuts oplewer wat gewoonlik redelik groot gaan.
Sterkte met alles wat jy hierdie jaar aanpak. Wees lief vir die mense om jou en sê vir hulle hoe jy voel terwyl hulle nog leef. Moenie wag om vir iemand na aan jou te sê hoe jy voel nie. Lees tussen die lyne. Dink nuwe denke, ry ‘n ander pad werk toe. Luister Jack Parow al is dit nie jou cup of tea nie. Maak jou kop bietjie oop vir iets nuuts. As jy nie kan bekostig om met vakansie te gaan hierdie jaar nie, lees ‘n nuwe boek en gaan op holiday in jou kop.
Maak 2010 jou jaar…verhuur jou huis aan die sokker malles en gebruik die geldjies om Zanzibar toe te gaan vir ‘n week. Of gaan kamp in Moz. Probeer ‘n nuwe stukkie tegnologie. Kyk uit oor die veld en sê dankie. Oorreed jou baas dat dit moontlik is om van die huis af te werk met huidige tegnologie tot ons beskikking.
Hou julle oë oop vir die nuwe cd wat in Maart vrygestel word. Hy’s klaar opgeneem en gaan deur die finale meng proses. Ons skiet musiek videos hierdie maand wat binnekort die kanala sal tref. If all else fails…stig ‘n band!
Abel Kraamsaal


