Amper twee jaar gelede staan en staar ek na die televisie skerm. Iets is fout. Daar’s lyntjies oor die beeld. Amper soos in die dae van ‘n lugdraad. Die mooi woord vir êriël. Dit maak nie sin nie, want dis nie veronderstel om dit te doen nie. Sateliet televisie is mos van die helder soort. Ek gee die televisiestel die gebruiklike tik, maar die beeld bly vreemd. Die foutsoeker wat ek is kyk rond en vermoed dat dit moontlik sal help as ek die dekodeerder se kaart verwyder en weer terugsit. Dalk het daardie klein goue blokkie ‘n lekker skoonvryf nodig. Dalk is dit stof. Ek trek hom uit en voel hoe die vloeistof teen my hand tot amper by my pols loop. ‘n Nat dekodeerder kaart? Volgende stap is om die neus toets te doen, want tongtippie toets vermoed ek is bietjie gevaarlik as jy nie weet waaraan jy lek nie.
Die kat piepie reuk trek my soos ammoniak tussen die sinus holtes. Nadat ek my bewussein herwin het en weer deur my eie oë kon sien besef ek dat my liewe sentjie kat sy boude in die rigting van die dekodeerder gedraai het en dit gemerk het. Dit was ‘n seen by die ongeluk, want dit is nou al twee jaar wat ek nie sateliet televisie in die huis het nie. Aangesien my kombuistafel my kantoor is is die versoeking net te groot om heeldag en aldag net voor die televisie te lê en stories kyk. Daar sal nie ‘n steek werk gedoen word nie, die kitare en my skryfboek sal stof vergader en gebruiklik twee keer per week afgestof word deur die bediende wat haar pad deur die huis maak met die oranje lap in die hand.
Die feit dat SABC omtrent nooit iets lekker het om te kyk nie en ek al meeste van dei Terminator flieks meer as een keer gesien het, stele k net nie meer belang om die televisie aan te skakel nie, behalwe natuurlik vir my swakheid saens. House. Wanneer die kabouter in die bed is skop ek en vroulief die skoene uit, blaas die laaste diep asem van die mal dag uit ons borskaste en draf sommer maklik 4 episodes van House deur. Dokter House is nie jou gewone dokter nie en sal waarskynlik onder gewone omstandighede nie ‘n werk gehad het nie. Die storie is briljant en die aande wat ons nie House kyk nie, voel dit asof ek iets mis. Daar het my iets opgeval tydens die tweede laaste episode wat hulle gewys het. Die musiek. Dis briljant. Elke reeks en elke storie het musiek by om die gevoel en die emosie na die kyker oor te dra. Hierdie musiek gryp jou om die keel, vryf jou oor jou wang en vluister goed in jou oor wat jou oë anders laat kyk en jou hart anders laat klop.
Iewers in kantore in die binneste van die film maatskappye sit daar musiekmense. Musiekmense wat ‘n reeks se musiek kies. Daardie werk is van opperste belang. Kan jy jouself net indink hoe dit moet wees om musiek te absorbeer wat net heeltemal verkeerd is vir dit wat jou oë inneem? Ek vermoed op een of ander vlak sou dit geweldig steurend gewees het. Iets sou verkeerd gewees het en jy sou dalk nie jou vinger daarop kon sit nie. Miskien is dit hoekom sommige reeks net nêrens gaan nie. Die musiek is dalk verkeerd. Miskien eendag wanneer ek groot is skaf ek dalk weer ‘n dekodeerder aan en aktiveer my diens. Ek sal hom met iets moet smeer om my seuntjie kat weg te hou. En wat maak ek met my êriël?

