• Blog

    Posted on February 24th, 2010

    Written by abie

    Tags

    Altwee oë
    Snags lê ons en slaap in huise waarvan die alarmstelsels se liggies rooi blink. Paraat soos ‘n wip in die woud. Styfgespan, reg vir enige beweging. Jy moet deur ‘n hele proses gaan net om jouself in die gang te gaan verlig wanneer die natuur jou wakker maak en jou op die blaas druk. Kwansuis slaap ons beter wanneer die liggies rooi is, want dan weet jy wanneer iemand in die huis is. Met ‘n sin van gemak lê ons en droom van die volgende dag se take en die huidige nag se dinge. Net daar wil ons bly.

    ‘n Derde van my lewe gelede het ek vir twee jaar in die buiteland gewoon. Eers in ‘n huis wat na ou bierblikkies en warm stof geruik het en waarvan die voordeur nie kon sluit nie. Al was dit in ‘n baie vreemde deel van die stad was dit tog veilig. Ek het ‘n redelike goeie werk gehad, lekker vriende en genoeg Afrikaans om my ‘n leeftyd te hou. Maar iets het bly knaag.

    Die huis met die stukkende voordeurslot het agter gebly na net ses maande en ‘n nuwe huis is gesoek en gekry, kompleet met blommetjies muurpapier en ‘n moerske groen en blou blom geverf teen die sitkamer dak. Hierdie buurt was op die oog af beter. Hier was selfs ‘n tipe buite huisie in die agterplaas, so ‘n entjie weg van die huis. Die huisie is skoongemaak en bo-op die rou sement vloer het stukke matte lêplek gekry. Saam het die makkers gespaar en ‘n dromstel gekoop, twee elektriese kitaar en ‘n klankversterker, ‘n amp. Aspirant musikante het hier in die buiteland geskaaf aan iets. Die Nigeriese bure moes soms kla oor die dromme, maar daar was nooit regtig probleme met hulle nie. Die onderduimshede aan hulle kant van die draad was dalk aansienlik erger as die geplof van ‘n oningestelde dromstel en die amateurs wat daarop sit en skopslaan. Hier het ons selfs wortels in die tuintjie gegroei. Die wortels was groter as wat ek ooit kon dink mens aan die buitewyke van ‘n stad kon groei. Daar was nog meer Afrikaans, wat my nog langer sou hou as een leeftyd En tog het iets bly knaag.

    So het die huis met die blom teen die dak en die nors bure ook agterweë gebly en is ingeruil vir ‘n baie stywe lip plekkie in ‘n baie aangename gedeelte van die stad. Hierdie huisie was byne nuut. Twee slaapkamers in plaas van vier, maar net ek en my liefde wat tussen hierdie mure gebly het. Van tyd tot tyd was daar inwoners wat kom bly het vir ‘n paar maande op ‘n slag, maar dit als was ‘n avontuur. Dit was in daardie buurt, gedurende die laaste ses maande van my verblyf in die vreemde stad wat teen daardie tyd al my huis geword het, waar ek vriende gemaak he twat ek tot vandag nog gereeld sien. Afrikaanse mense. Daar kon ek bly, met genoeg Afrikaans om my twee leeftye te hou, maar die knaag het al deurgeknaag.

    Dit was my vasteland wat my so om die nek beetgehad het. Dit was nie net die taal nie. Die taal was net die aas, die spreekwoordelike wortel voor ‘n aspirant liedjieskrywer se neus. My siel wou weer Afrika reën ruik en die blouste lug in die hele wêreld sien. My hart wou weer in harmonie klop met die hoeters en toeters van die land aan die Suidpunt waar hy gebore is. Die geknaag is lankal oor en die liggies op die alarmstelsel paneel is inderdaad ‘n klein prys om te betaal.

    This entry was posted on Wednesday, February 24th, 2010 at 12:40 am and is filed under Blog. You can follow any responses to this entry through the RSS 2.0 feed. You can leave a response, or trackback from your own site.
  • 0 Comments

    Take a look at some of the responses we have had to this article.

  • Leave a Reply

    Let us know what you thought.

  • Name(required):

    Email(required):

    Website:

    Message: