Sommige oggende is dit die druk skedule vir die dag wat my wakker maak. Ander oggende is dit die gebrek aan druk wat my voor sonop uit die vere het. Sommige oggende is dit die knaende getorring van die skryf feetjie wat my kop van kussing skei. Vanoggend het ek ‘n ander misie. Ek gaan vanoggend die son sien opkom. Die gedagte het waarskynlik in my onderbewussein begin dwaal deur die nag. Daar is vanoggend iets simbolies daaraan om die son sy kop te sien uitsteek oor die horison. Asof hy sy arms uitstrek en regmaak vir die dag waar almal op moeder aarde rondskarrel om hul daaglikse dinge gedoen te kry. Hierdie tyd van die oggend kom die planeet se klanke en kleure uit. Die inkleurpenne en verfkwaste word ingespan om alles so ver die oog kan sien in te kleur in skakerings wat die hele dag moet hou.
Afgesien van die kleure is daar ook van vroeg af nuwe klanke en geluide. Nie noodwendig nuwe klanke wat nog nooit gehoor is nie, maar vars klanke. Klanke wat ook nou-net wakker geword het uit ‘n lang hibernasie. Die oggend gaan van doodstil tot ‘n kakofonie van klanke soos die voëls en ander diere hul vere en pelse begin regskud vir die dag wat voorlê. So ook gebeur dit dat nuwe klanke, dalk nie noodwendig splinternut nie, maar vars klanke, ons oordromme tref. Hierdie klanke ontstel soms ons ore, maar as dit nie ‘n indruk maak nie sou dit dalk maar net soos ‘n geritsel geklink het.
“Die Antwoord” is op almal se lippe en die land gons oor die skokkende lirieke, die aanstootlike video materliaal en die “kommen” kunstenaars. So byna asof die hele land dink Yo-Landi Vi$$er, Ninja en DJ Hi-Tek is in die werklike lewe dieselfde mense. Nou kyk, wanneer Ninja in ‘n onderhoud sêhy het in sy inner zefness ingetap, is dit dalk presies wat hy gedoen het om iets so kontroversieel op die planke te sit. Afgesien van die hoekoms en die waaroms van presies hoe hulle dit gedoen het om basies die hele wêreld te laat regop sit en die son te sien opkom, het hulle dit inderdaad reggekry.
Waar in die verlede het ‘n Suid-Afrikaanse outfit ‘n musiek video op Youtube gesit en binne weke byna twee miljoen kykers geahd? Hierdie tendens gebeur skaars wanneer daar ‘n nuwe Britney Spears video die luggolwe van die wêreld se wydste web tref. Geen wonder die hele wêreld van musiek he teen oggend eweskielik vroeg uit die vere gespring en die son anders sien opkom een oggend nie. Daar was ‘n ou klank met ‘n nuwe gevoel. Rep en roer. Onderhoude word toegestaan, klein gigs wat die groep beplan draai uit om honderde en later selfs duisende mense te lok. Dit als binne die bestek van ‘n paar weke.
Koos Kombuis spreek sy mening uit in die koerante en word op sy beurt tereggestel, gestenig vir sy verkramptheid volgens ‘n ander joernalis. Hier maak dit nie eens saak of die musiek vieslik is nie, dit maak nie saak hoeveel aanstoot dit gee nie. Die feit is eenvoudig. Wanneer daar hierdie tipe opspraakwekkendheid is in die musiekmark, dan het jy die rooi kolletjie in die middel van die veerpyltjie bord getref. Elke musikant wil met elke nuwe album net een oggend wakker word en die nuus moet gons oor die produk. So gons dat jy nie winkel toe kan gaan sonder om uitgeken te raak nie.
Hierdie gebeur nie oornag nie. Ninja, of soos hy vroeër bekend gestaan het as Max Normal, kom al ‘n lang pad. ‘n Goeie tien jaar pad. Oornag sukses? Weereens voel dit so, maar die tendens bewys homself net weer. Soos Theuns Jordaan een aand gesê het, “Dit het my sewe jaar geneem om ‘n oornag sukses te word”. Sukses is soms ‘n lang pad en voor jy jouself kom kry het jy aan die einde van daardie pad gekom en is jy by jou bestemming. Rep en roer.


En party keer voel dit soos 7 jaar voor die son opkom. En deur die 7 jaar is daar blinde geloof dat die son wel sal opkom, en wanneer dit gebeur gaan hy jou verblind met sy helderheid.