Ons seil Struisville in die pens van getroue silwer. Die dorp se wange is uitgevat met bekende en klomp vreemde gesiggies. Die gesiggies op die plakkate glimlag trots, party lyk ernstig, so asof hulle ‘n sitplek probeer oopskop in die parlement, ander lê en lok jou na hul skatkis van diversiteit en die tot dusver onontdekte potensiaal. My maag draai sommer. Die energie en luim in die dorp, waar volstruisvere eens ou anties in pofrokke en ooms in netjiese manelpakke se bestaan ingekleur het, is tasbaar. Alhoewel dit die eerste dag is van KKNK is die dorp se moue opgerol om die binneste van honderde duisende mense met pannekoek, kultuur en gatskuur te vul. My maag draai weer. Hy draai voor elke vertoning wat ek moet doen. Soms draai hy so erg reg voor my voete die plankvloere tref, dat ek weer pannekoek nodig het om die gaatjie te vul.
Ek, getroue en die geliefde soek die nuwe habitat van die verhoog waar ek my verskyning oor ‘n uur moet maak. Aangekom kry ek die worsmasjien gevoel. Die een hoopvolle bestuig die houtplanke en doen presies wat hy of sy wil hê die mense moet sien en hoor. ‘n Musiekveiling waar sommiges hul prys kry en ander se reserwes net nie gehaal word nie. By die piepieplek buite die arena moet ek en die geliefde eers die langpad se ystee terug in die stelsel sit en maak ‘n draai by die opslaan toilette buite die hekke. Geliefde is eerste en kom uit met ‘n frons wat glimlag. “Dis darem nie lekker om ouer te word nie”. Hierdie toilette raak ‘n baie belangrike gedeelte van jou oorlewing by laatnag rock feeste, maar hier, helder oor dag in die bakkende son is dit net ‘n manier om van ongemaklik na effens meer gemaklik te gaan. Johrne kom om die draai en ons groet soos ou vriende wat aan verskillende kante van die Karoo boer. Dis moer lekker om hom te sien. ‘n Welkome gesiggie na die afwesigheid. My maag voel al beter.
My beurt breek aan om deur die worsmasjien te gaan en die onthou kom terug. Die strak gesigte wat van vroegoggend tot laat aand jou en al die ander soldate aanstaar. Almal binne omrol-en-kruip afstand van dievnaaste boerie, pannekoek, roosterkoek en halfliter bier. Al wat kort is ‘n swemplek vir die gaste. So druk jy die een song na die ander deur die worsmasjien en jy draai al hoe harder aan die slinger om die bestanddele deur te kry tot in die derm van die see van gesiggies voor jou. Dit voel of daar gate in die derm is, want die woorde val op die grond. Dit voel onvermydelik. Deur die gespartel kyk ek af na die lysie songs wat ek aan die voorste linies van verdediging geplaas het, maar ek besef ek sal van hulle moet laat terugval, anders gaan hulle voos wees teen die aanslag. Die barometer word omgebuig soos ‘n wasnaald wat in die son gelê het. Ek lok reaksie uit met ‘n aander benadering, maar die gesiggies lyk dieselfde. Met die laaste skoot van die laaste kannon volg ek die trappies weg van die slagveld af. Amor Vittone staan aan die onderpunt. Reg om die nasie te pak met nostalgie en oorwinning terwyl Joost in die BBP tent die van der Westhuizen kinders vermaak.
Later, toe die son en maan al skofte geruil het, sit ek en die geliefde op ‘n stoep waar ons sitvlakke al telke male gemak gevind het weg van die gedruis van die ooms en tannies met die botox gesigte. Die witwyn is salf vir die siel en dien as voorbereiding vir die rock&roll wat met die maan se draai aankom, laataand, wanneer botox al slaap. Kitare huil, dromstelle staan parmantig en slaan note die nag in. Die verhoog lê vol druppels sweet en as jy opkyk van die druppels sweet af is daar musiek dissipels met toe-oog glimlagte op. Dis hier waar ek wil bly. Dis hier waar ek sal wil doodgaan eendag. Dis hier waar ek my soldate sal instuur om in die voorste linies te gaan handskud met die gesiggies wat die musiek hoor en voel. Dis hier waar ‘n klankoorlog in ‘n wonderskone woud verander. Kompleet met dwergies, feetjies en towerstokkies vol klank. Die volgende oggend is ons weer in die getroue silwer terug na ons stoep toe. Kom volgende jaar is ons weer daar. Met nuwe soldate.

