
My fasinasie met tyd koester al vir ‘n geruime tyd absurde proporsies. Daar is ‘n deel van my wat glo dat tyd en die verstaan daarvan ‘n mini obsessie geword het. Niks fanaties nie, ek is bloot gefasineerd met die ontstaan, die vloei en die ontasbaarheid, die onverklaarbare en die onvermoë van die mensdom om dit te beheer. Dit in alle perspektief is mag. My standerd vyf juffrou, Juffrou Oelofse het destyds die klas gevra wat ons dink die belangrikste ding in die wêreld is. Daar waar die skool in suburbia staan, reg in die middel van ‘n persepsionele middelklas, was die oorgrote meerderheid se gekondisioneerde antwoord, geld. Juffrou Oelofse het harder probeer deur ons aan te help met ‘n leidraad. “Waarvan het ek net ‘n beperkte hoeveelheid en sal graag meer wil hê?”. Die leidraad het minder gedoen as ‘n waaier in Hiroshima om die radiasie weg te waai, want die antwoord het bly hang by geld. Die saadjie was geplant en tot onslangs was die saadjie dolgelukkig onder die oppervlak van die bewussein, maar toe die eerste spruitjie sy kop uitsteek was dit nag. Ek het ‘n album geskryf met dtyd as die onderliggende tema. Nie net tyd nie, maar juis die verganklikhed daarvan en heel moontlik die vrees dat hierdie een bewustheid wel die enigste een is. Al glo ek sterk dat hierdie huidige een dalk nie al is wat die wonderwêreld vir ons inhou nie.
Ek dink so ver terug soos Adam. Verbeel jou die boom wat die twee jonges van geëet het was nie regtig ‘n appel nie, maar ‘n boom wat jou bewussein so effens verskerp en jou redenasies effens verder vat. Miskien het Adam en Eva sit en filosofeer oor die heelal en wat hulle hier in die tuin doen en met ‘n magtige knal van gewaarwording bevind hul hulself in ‘n penarrie, want eweskielik verstaan hulle als. Iets moes sin maak. Amper soos wanneer ‘n man of vrou soos in die flieks in protective custody geplaas word. Dalk het hulle te veel inligting gehad en hulle moes iewers heen geskuif word.
My gedagtegang beur na musiek, die enigste kanaal wat ek regtig volkome verstaan. Wat mense maak musiek skryf, wat my maak musiek skryf. Skrywers regdeur tyd het al gewriemel en geworstel met tyd as subteks en steeds weet ons bitter min daarvan. Miskien is dit omdat tyd gladnie bestaan nie en dt juis lui tot ons onvermoë om dit vas te pen en te definieer as tasbare entiteit. Ek vermoed die konsep van tyd is net daar om orde te handhaaf onder dïe wat oor die algemeen sukkel met vrye denke. Kan jy jou die chaos verbeel as daar een oggend, geen spesifieke tyd op die horlosie, aangekondig word dat tyd nie regtig bestaan nie? Ek vermoed ook dat so ‘n uitlating dieselfde uitwerking op die mensdom sal hê as wat die uitlating dat die bybel slegs ‘n versameling fabels is. Dalk het die mensdom die konsep van tyd nodig om hulself te orden, te verstaan en sin te maak van verandering. Veral aangesien die enigste konstante in die lewe wel verandering is.
Die uiters vreemde, dog interessante, gedagte dat die een mens op aarde wat die konsep van tyd werklik die heel beste verstaan, in ‘n rolstoel sit en deur ‘n rekenaartjie praat. ‘n Superbrein, vasgevang in die liggaam van ‘n invalide. Ek vermoed Stephen Hawking is heel moontlik die moderne Adam.


Ai, nou sal ek maar Hawkings se boek(e) moet lees. Groete
Ditto, Abie. “Time is an invention”. 40,53,65,88. Dis als irrelevant. “The time is now”