
Vanoggend is een van die mooiste oggende wat die Oos-Kaap kan bied. Dis vroeg, die koffie is perfek en die lug is ysig buite. Die huis en sy ingewande slap nog, maar ek is op. Daar’s iets magneties aan die planeet hierdie tyd van die oggend. Die dag skud sy vere reg, die voëltjies maak reg vir groot dinge en die bome is daardie spesiale kleur groen wat jy net hier kry. Dit voel soos ‘n vroeg oggend in die suide van Frankryk, maar dit is nie, hierdie is my eie stoep. Alles voel reg en goed. Alles voel positief. Ek hoop die dag eindig soos hy begin het.
Die afgelope Saterdag aand was dit die groot rugby tussen die Bulle en die Stormers. Ek wat nie ‘n vreeslike groot rugby kyker is nie hou tog van die groot geleenthede. Mal oor ‘n final. Die energie is vir my ongelooflik en dit voel amper vir my soos ‘n aand waar mense bymekaarkom om musiek te aanskou. Ek staan buite in die koue met ‘n yskoue Windhoek Draught. Heerlik na ‘n lang droë dag. Die kroegie is in die bos en het al die “local” geword. Wonderlike eenvoudige plek sonder die liggies van die dorp en die pretensies van di e mense wat daarheen gaan. Al die gereelde gesiggies is daar, elkeen met hulle kenmerkende persoonlikhede. Elkeen met die maniertjies wat mens al so gewoond aan geraak het.
Op ‘n stadium staan ek en staar die donker in, al luisterende na die entoesiasme van binne die boskroegie. ‘n Stem en wiegende liggaam trek my aandag af van die diepte van die donker. “You’re that oke on that cd cover”, reken hy my. “I know”, sê ek. “Who in his right mind would put me on their cd cover?”, prober ek die gesprek weg van die huidige onderwerp stuur, maar ek misluk genadeloos. Hy’s vasbeslote om my met die bietjie beheer oor sy spraak wat hy oor het, te vertel wat hy my wil vertel.
“Man, track three on the cd is brilliant dude”. Ek probeer uitwerk watter cd hy van praat en terselfdertyd probeer ek uitwerk watter song hy van praat. Tussendeur als dink ek self shy vat my vir ‘n vette, maar hy hou aan. “The piano on the song is acid man”. Met piano het hy my aandag en ek luister, want as iemand, poepdronk of spook nugter musiek praat en begin tegnies raak, dan is ek die ene ore. En ore gaan dit vat, en konsentrasie, want hierdie perd probeer hard om elke word mooi uit te kry.
Soos hy die song beskryf kom ek gou agter waarvan hy praat en ek gesels saam. Bedank hom vir sy kompliment en maak nogal ‘n grappie oor hoe onwaarskynlik dit is dat hierdie jong soutie aanklank vind by hierdie Afrikaanse cd. Nou staan hy my en aankyk. In sy gesig sien ek hy wil nog iets sê, maar as jy mooi na sy gesigs uitdrukking kyk lyk dit meer of hy iets wil vra, of uitpass. Gelukkig bly hy staan en vra sy vraag.
“Do you mind if I tell you how I got to listen to your cd?”, vra hy sluierend. “Nooit!”, sê ek. Ek hou mos van ‘n interessante storie en hier mag dalk net weer een wegkruip. Ek vermoed so half en half dat hy dit dalk iewers by ‘n Afrikaanse vriend gehoor het, maar verder kon ek nie verkeerd wees nie. ê ek. Ek hou mos van ‘n interessante storie en hier mag dalk net weer een wegkruip. Ek vermoed so half en half dat hy dit dalk iewers by ‘n Afrikaanse vriend gehoor het, maar verder kon ek nie verkeerd wees nie.
Hierdie jong man het een laatmiddag ‘n alkoholiese versnapering geniet by ‘n soortgelyke kroegie en daardie einste cd van my het agter die kroegtoonbank gelê. Interessant genoeg het die ontwerp gelyk dat hy besluit het hy wil hoor wat daarop aangaan. Terwyl die kroegman vir hom ‘n drankie skink het hy die cd in sy broek gedruk en later daardie dag baie van die cd begin hou.
Volgens my is hierdie daad amper vir my soos ‘n modern Robin Hood. ‘n Soutie wat ‘n Afrikaanse cd steel en daarvan hou. Snaaks hoeveel vreemde stories daar buite rondloop as jy net reg is om te luister.
-
This entry was posted on Sunday, May 30th, 2010 at 9:15 am and is filed under Blog. You can follow any responses to this entry through the RSS 2.0 feed. You can leave a response, or trackback from your own site.
-
0 Comments
Take a look at some of the responses we have had to this article.
-
Leave a Reply
Let us know what you thought.
-

