• Blog

    Posted on July 17th, 2010

    Written by abie

    Tags

    Almal dra ‘n jas, ‘n jas wat netjies pas. Wel, soms netjies pas. Want sommige kere druk daai jas so dat jy net nie meer met hom kan saamleef nie. Dis juis hierdie drukkende gevoel van die jas wat my orent het die afgelope paar nagte. Leef ons soms nie ons drome of ons roeping uit net omdat ons bang is ons is verkeerd daaroor? Ek begin wonder of ons almal vasgevang is in ‘n maalkolk van konformie om in die links-regs-links-regs gemaksone te bly. Sommiges het tog hul roeping gevolg en of hulle nou skatryk is of brandarm, hulle volg hul roeping en dit maak hulle geweldig gelukkig. Geen wonder daar’s so baie padwoede nie. Verbeel jou om vir veertig jaar in ‘n jas te wees wat jou druk, net omdat jy bang was om jou gunsteling jas in die reën aan te trek. Ter wille van oorlewing. Laat mens wonder.
    Baie dinge maak skielik sin. Baie verbaas selfs. Ek het ‘n vriend wat heeldag sit en staar na ingewikkelde syfers en ontleed hierdie syfers om as sinvolle bydrae toegedien te word tot een of ander groot besluit. Iewers. Waa rmy oë lankal moed sou opgee en my grysstof heelwaarskynlik sou oorkook, is hy dol daaroor. Dit werk vir hom. Dit doen iets vir hom. En dis waarskynlik hoekom hy dit doen. Vra hom hoe dit by die werk gaan en hy skroom nie om te sê dat dit goed gaan nie. Ek dink nie daar is iets anders, behalwe ‘n internasionale spioen natuurlik, wat hy graag eerder sal doen vir ‘n lewe nie. Aan dieselfde kant van die skaal, maar wêrelde verwyderd van syfers en ontledings sit ‘n handjievol vriende wat ook hul roeping gevolg het. Hierdie groepie vriende deel ook daardie saligheid in die siel wat dit bring om jou toe te wy aan jou roeping.
    Doer anderkant, aan die oorkant van die spreekwordelike skaal is die minder gelukkiges. Mense wat ‘n keuse gemaak het om dalk die veilige pad te kies. Miskien was dit druk van buite wat hulle in ‘n rigting laat beland het. Dis selfs ‘n moontlikheid dat hulle per toeval iewers beland het en ‘n lang lewe daaraan gewy het. Hoe dit okal sy, hierdie gedeelte van die samelewing ry in die veilige baan en droom van die dag wat alles net kan klaar wees en hy sy droom kan volg. So gaan die lewe soos ‘n silent movie verby en drome bly presies dit, drome. Daar is ‘n ander fenomeen wat miin mense aan dink. Dalk breek ek iewers ‘n seel. Daar is musikante wie se roeping nie musiek is nie. Presies soos ‘n dokter se roeping dalk sou wees om ‘n motorwerktuigkundige te wees. Musiek, soos baie ander beroepe het toevallig een van daardie wonderlike beroepe geword wat jy met baie sukses kan beoefen met de regte resep. Roeping of te nie. Soos daar mense in ouditeursposte vasgevang voel is ek seker sit daar ‘n paar sangers met dieselfde gemoed. Ter wille van oorlewing.
    Vir oulaas, net voor my gedagtegange my verlaat tel ek my selfoon op en flits deur die name. Ek verbeel Jacques Arendt van BayFM as ‘n bankklerk wat droom van musiek met mense deel. Ek sien my tattoeer kunstenaar vriend as ‘n ouditeur wat orals op sy offisiële briefhoofde dramatiese grafiese tekeninge doen en daarvan droom om sy kuns op mense se lywe te verewig. En dan sien ek myself. Skuldig aan presies dieselfde. Die jas was al te lank in die kas. Die jas kom uit, al reën dit vir ‘n rukkie.

    Paar Gig datums voor ons met die Lentetoer afskop…

    5 Augustus – Die Boer, Durbanville (vol band)
    6 Augustus – Balke, Worcester (vol band)
    7 Augustus – Dorpstraat, Stellenbosch (vol band)

    Hou julle oë oop vir die afskop van die Lentetoer In Bloemfontein die 26ste Augustus by Die Aasvoëlklub! Nog datums volg…

    This entry was posted on Saturday, July 17th, 2010 at 2:18 pm and is filed under Blog. You can follow any responses to this entry through the RSS 2.0 feed. You can leave a response, or trackback from your own site.
  • 0 Comments

    Take a look at some of the responses we have had to this article.

  • Leave a Reply

    Let us know what you thought.

  • Name(required):

    Email(required):

    Website:

    Message: