• Blog

    Posted on August 25th, 2010

    Written by abie

    Tags

    Big Blue
    My musiekale melktande is geslyp met die musiek wat ek in my onmiddellike omgewing gehad het as kind. My pa was groot op sy musiek en het volgens familiestories homself sommige aande op ‘n ou bandopnemertjie opgeneem terwyl hy Neil Diamond covers gesing het. Ek glo nie hy het hierdie opnames ooit weggestuur nie. Hy het waarskynlik die volgende oggend daarna geluister en besef dat die inspirasie dalk groter was as die gladde uitvooering daarvan. Inspirasie en selfvertroue kom mos maar laat aand en oorbluf soms die paraatste siel. Ek giggel soms in my eie mou om te wonder wat sou gebeur het as my eie pa daai bandjies ingestuur het na ‘n platemaatskappy en iemand het iets gehoor waarmee hulle kon werk. Bid jou aan. ‘n Neil Diamond sanger in Suid-Afrika. Dalk sou ek en my sussie dan van tyd tot tyd vakansies in ‘n toerbus moes deurbring terwyl die ou man die skares laat swymel met sy stem. Soos die geluid wanneer ‘n naald oor ‘n viniel plaat krap, so het daardie droom nooit gerealiseer nie en nou nog wanneer my ouers en hul vriende saam see toe gaan, word die kitaar ingepak vir ‘n bietjie Neil Diamond.
    Dit was ook darem nie net Neil Diamond wat ons huis en my ore vermaak het nie. Daar was ‘n seleksie amper so groot soos tannie Ina Paarman se reeks speserye. Bread, Creedence Clearwater Revival, Leonard Cohen, Beatles, The Who, Laurika Rauch, David Kramer en vele vele meer. Alhoewel die diversiteit van die musiek in my ouerhuis my musikale bewussein op daardie stadium van hoek tot kant volgepak het, het ek geen idée gehad wat nog agter die musiek gordyn wegkruip nie. Ek het nie geweet van die bestaan van die Rolling Stones nie. Die Sex Pistols kon netsowel ‘n motorfiets bende wees. Soos vandag was daar sekerlik honderde groepe reg oor die wêreld waaroor ek mal sou wees as kind en terselfdertyd het ek nie van die bestaan van daardie groepe gewis nie.
    Al hierdie musiek in die huis het my twee baie belangrike punte laat besef. Ek het geleer van die ritme van musiek. Nie net die musikale ritme wat die instrumente maak nie, maar die ritme wat gevorm word deur die lirieke en dat die woordjies in balans moet wees met die musiek. Hoe sterker hierdie balans, hoe makliker is dit op die oor. Maak nie saak watse tipe musiek dit is nie. Hierdie balans, hierdie simbiotiese wisseldeling moet so naby moontlik aan perfek wees vir die song om te werk. Ook het ek die verskillende style van musiek begin agterkom. Blues het ‘n tipe struktuur. Ballades het ‘n tipe struktuur en as mens by hierdie strukture hou en leer hoe om hulle te speel en te voel terwyl jy dit speel, dan kan jy sowaar jou aanleg met die pen toets. Dan kan jy sien of die woordjies wat jy by die musiek sit iets gaan beteken vir iemand en of dit hol simbale gaan wees.
    Die ander wonderlike konsep wat ek as laaitie in my ouerhuis geleer het, is dat dit moontlik is om bleddie lekker musiek in Afrikaans te kan maak. Die impak van die besef was nie so groot nie, want dit maak mos sin. Maak nie saak watter taal jy beet het nie, musiek kan jy daarin maak. Ek’s nie seker hoe vleiend dit moet wees om musiek in vreemde tale te luister nie, maar daarby kan ons nog ‘n draai maak. Ek dink dit was bloot die feit dat dit moontlik is wat my aangetrek het. Hoe opwindend. Dit was amper dieselfde gevoel om in Afrikaans te skryf en musiek by die resep te voeg soos dit sou wees om ‘n kaart te ontsyfer wat die pad na ‘n verborge skat uitwys. Die gevoel wanneer jy begin skryf en nie ‘n idée het waar dit jou gaan neersit aan die einde nie is fenominaal. Jou eie avontuur met die pen as jou sweep. Dis nou natuurlik as jy jouself as ‘n tipe Indiana Jones sien. ‘n Musikale avonturier. Ek hoop dat die invloed van musiek in my huis, my kind se bewussein eendag so sal stimuleer dat sy nie net sal dink dat dit moontlik is om in Afrikaans te skep nie, maar dat enigiets eintlik moontlik is. Swaai net die septer.

    This entry was posted on Wednesday, August 25th, 2010 at 8:39 am and is filed under Blog. You can follow any responses to this entry through the RSS 2.0 feed. You can leave a response, or trackback from your own site.
  • 0 Comments

    Take a look at some of the responses we have had to this article.

  • Leave a Reply

    Let us know what you thought.

  • Name(required):

    Email(required):

    Website:

    Message: